9 dood in gru-ongeluk naby MarientalOctober 2, 2023
Nege mense is rondom half-11 Sondagnag tussen Mariental en Gibeon in ‘n gru-ongeluk dood. Die Namibiese polisie sê die bestuurder van ‘n Iveco-bus, met 23 passasiers aanboord het gesien hoe beweeg ‘n aankomende vragmotor in sy baan. In ‘n poging om ‘n ongeluk te vermy het hy uitgeswaai maar is steeds op sy sy gestamp. Die bus het omgeslaan en een passasier is op slag dood. Intussen het die vragmotor van voor teen ‘n Bantam-bakkie gebots. Al agt insittendes in die bakkie, wat aan die brand geslaan het, is op slag dood. Daar is 23 beseerdes na Mariental se hospitaal afgevoer. Die 37-jarige vragmotorbestuurder is ernstig beseer. ‘n Ondersoek na strafbare manslag is geloods.