9-bladsy “dress code” handleiding vir dié troue…
Anant Ambani gaan trou, en sy pa – Asië se rykste man, Mukesh Ambani – ontsien geen koste om die huweliksfees te vier nie.
As die voorsitter van die Fortune 500-maatskappy Reliance Industries, het Ambani Sr. geraamde netto waarde van US$111 miljard, volgens Bloomberg se Billionaires-indeks. Dit maak hom die rykste persoon in Asië en die 11de rykste persoon in die wêreld.
Die jonger Ambani gaan in Julie met Radhika Merchant, die dogter van Viren Merchant, uitvoerende hoof van Encore Healthcare, trou. Die egpaar se drie dae lange voorhuwelikspartytjie begin vandag in Gujarat, Indië.
Ambani en sy aanstaande bruid het Woensdag ‘n gemeenskaplike ete vir 51 000 plaaslike inwoners in Gujarat aangebied, volgens The Hindu. Die befaamde sanger, Rihanna sal by die naweek se vieringe optree. Daar word selfs gesê dat van die grootste name in die tegnologiewêreld die spoggerige geleentheid gaan bywoon, insluitend Bill Gates en Mark Zuckerberg.
Daar is verskeie uitstappies gereël vir die gaste wat onder andere insluit ‘n besoek aan die Reliance-dierereddingsentrum asook ‘n geleentheid waar gaste die middag kan deurbring “omring deur die wonders van die natuur” – insluitend meer as 200 olifante, 300 roofdiere en 120 reptiele wat voorheen die risiko geloop het om verkoop of gestroop te word.
‘n Dokument van nege bladsye oor die kleredrag vir die naweek is aan al die gaste gestuur. Elke uitstappie gaan gepaard met ‘n spesifieke tema vir die uitrusting wat die gaste moet aantrek. Daar sal ook haarkappers en grimeerkunstenaars beskikbaar wees vir gaste om te gebruik.