63 migrante sterf toe boot by Kaap Verde omslaan
Drie-en-sestig mense is moontlik dood nadat ‘n boot met meestal Senegalese migrante aan die Kaap Verdiese kus in die Atlantiese Oseaan omgeslaan het. Agt-en-dertig mense, insluitend vier kinders tussen 12 en 16, is gered. Senegal se ministerie van buitelande sake sê die boot het die land op die 10de van verlede maand met 101 passasiers aan boord verlaat. Volgens die polisie is die lang, hout vissersboot Maandag 277 kilometer van die Kaap Verdiese eiland, Sal, opgemerk. Sowat 560 mense sterf jaarliks in pogings om die Kanariese Eilande te bereik.