40 werkers steeds in tonnel vasgekeer

Reddingswerkers het teen vanoggend sowat ‘n derde van die pad geboor in die puin van ‘n ineengestorte snelwegtonnel in Indië om 40 werkers te bereik wat al vir vyf dae binne vasgekeer is. Boorwerk het deur sowat 21 meter se puin gedring, sê Devendra Singh Patwal, ‘n rampbestuursbeampte. Hulle moet ‘n totale afstand van byna 60 meter aflê. Nog ‘n beampte saam met die reddingspan sê dit gaan goed met die vasgekeerde mans. Hulle is deur ‘n pyp van kos, water en suurstof voorsien en die owerhede het via tweerigting-radio met hulle in aanraking gekom.