Landswye skole massa-optog gelas teen geweld teenoor kindersApril 28, 2025
In die nasleep van die drie Okahandja-moorde sê die onderwysministerie hy is toegewyd daaraan om veilige omgewings vir alle kinders in die land te skep. Ter ondersteuning hiervan word alle sekondêre skole gerig om môre deel te neem aan ‘n massa-optog teen geweld teenoor kinders. Elke skool moet 20 leerders uitsoek om in volle skooluniforms aan die optog deel te neem. ‘n Veilige en toeganklike plek in skole se areas moet geïdentifiseer word vir die optog. Twee onderwysers moet elke groep leerders vergesel, en daar moet vervoer na en van die protes verskaf word. Skole moet met plaaslike owerhede koördineer om te verseker die optog vind veilig plaas, wat insluit polisie- en verkeersbeamptes om verkeer te beheer. Leerders wat nie aan die optog deelneem nie moet by interne skoolgebaseerde aktiwiteite betrek word om bewustheid oor geweld teenoor kinders te kweek.