Vier gevalle van veediefstal, stropery oor naweekApril 22, 2025
Die polisie het vier gevalle van vee- en wilddiefstal oor die naweek aangemeld. Twee mans is naby Gochas gearresteer na hulle met vier skaapkarkasse ter waarde van 6 000 Namibiese dollar in hul kar betrap is. By Omutsegonime dorpie in die Oshikoto-streek is ‘n 30-jarige man in hegtenis na hy vier osse van sowat 48 000 dollar uit die weiveld gesteel en aan ‘n besigheidsvrou verkoop het. Die beeste was klaar geslag toe die polisie daar aangekom het. ‘n Vrou en twee mans is in Gochas se Hei-eb-buurt gevang met ‘n halwe skaapkarkas wat vermoedelik gesteel was, ter waarde van 1 000 dollar. Drie mans is op die plaas Sommerkoms in die Transkalahari aangekeer nadat hulle ‘n wildsbok sonder permit gejag het. Die polisie het nie gespesifiseer watter tipe wild dit was nie, en het die vars biltong van ‘n lyn af gekonfiskeer.