Namibië se damme jare laas só vol April 1, 2025
Mildelike reën sorg dat Namibië se damme die volste in jare is. Volgens Cirrus Capital staan die Hardapdam, tans bykans 75 persent vol, op sy hoogste vlak sedert 2014. Op 104,4 persent loop Swakoppoort oor; die eerste keer sedert 2021. Die Omatako- en Von Bachdamme het ook hulle hoogste vlakke sedert 2021 bereik. Omatako is amper 81 persent vol en Von Bach bykans 65 persent. Die Oanob-, Naute- en Neckertaldamme is almal die volste sedert laat 2022 tot vroeg 2023, sê Cirrus. Na verwagting sal die reën nog tot vroeg vandeesmaand voortduur, met veral die suidwestelike dele wat swaar neerslae kan verwag.