Langer Heinrich verdien groot vir Paladin
Paladin Energy het ‘n sterk finansiële en operasionele prestasie gerapporteer vir die ses maande geëindig 31 Desember verlede jaar, onderstreep deur die suksesvolle opbou van produksie by die Langer Heinrich-myn in Namibië en die voltooiing van sy verkryging van Fission Uranium in Kanada. Ian Purdy, uitvoerende hoof van Paladin het die span by Langer Heinrich geloof vir hulle herlewing van operasies. Produksie by die myn aan die kus het altesaam 1,3 miljoen pond uraanoksied gedurende die tydperk bereik, met 1,1 miljoen pond wat reeds aan kliënte gelewer is en wat ‘n inkomste van 1,4 miljard Namibiese dollar opgelewer het. Paladin het ‘n gemiddelde gerealiseerde uraanprys van 68,8 Amerikaanse dollar per pond gerapporteer, met ‘n produksiekoste van 42,1 dollar per pond.