Jag van woestynleeu Mwezi draai in hof

Die jag van die woestyn-aangepaste leeu Mwezi in Oktober 2023 draai in die hof. WildVeld Safaris dagvaar die Desert Lions Human Relations Aid, DeLHRA en Izak Smit vir skadevergoeding van 80 000 Namibiese dollar. WildVeld voer in die hof aan dat ‘n beëdigde verklaring deur Smit hom valslik betrek het by die jag. WildVeld hanteer jagte in konsessie gebiede maar ontken dat hy betrokke was by die jag. Hy sê Smit se verklaring is wyd en herhaaldelik gedeel en het die media in Suid-Afrika bereik wat sy befondsing, waarop hy staatmaak, negatief raak. Die trofeejag van die betrokke leeu was uiters omstrede. DeLHRA en Smit verdedig. Adjunk-regterpresident Nate Ndauendapo is op die bank en die saak kom voor vir saakbestuur vandag.