Namibië in Groep A by CAF Vroue Futsal Afrikabeker

Die historiese eerste CAF Vroue Futsal Afrikabeker-toernooi is om die draai, en Namibië is saam met gasheerland Marokko en Kameroen in Groep A geloot. Die loting het vandag by die Konfederasie van Afrika-sokker se hoofkantoor in Kaïro plaasgevind. Groep B bestaan uit Angola, Egipte en Guinee, en Groep C bevat Madagaskar, Tanzanië en Senegal. Hierdie eerste uitgawe, wat vir 22 tot 30 April in Marokko geskeduleer is, is ‘n groot stap vorentoe in die ontwikkeling van vrouefutsal op die vasteland. Futsal is sokker wat binnenshuis op ‘n baie kleiner baan gespeel word. Die twee finaliste van die CAF-kompetisie sal Afrika verteenwoordig by die FIFA Women’s Futsal World Cup wat van 21 November – 7 Desember 2025 in die Filippyne sal plaasvind.