Santorini kondig noodtoestand aan oor skuddings
Griekse burgerlike beskermingsowerhede het ‘n noodtoestand op Santorini afgekondig terwyl natuurrampkenners toenemende vrese uitspreek oor die intense seismiese aktiwiteit. Die noodmaatreëls is afgekondig ure nadat seismoloë ‘n aardbewing van 5,2 op die Richterskaal aangeteken het. Dit was die kragtigste sedert die eerste van ‘n geraamde 7 700 skuddings geregistreer is. Die maatreëls, waarvolgens die weermag na verwagting ‘n meer aktiewe rol in krisisbestuur sal speel, sal van krag wees tot 3 Maart wanneer die Christen-Ortodokse nasie die begin van Lydenstyd merk.