Tien tot dusver dood in massaskietvoorval in Swede
Ongeveer 10 mense is dood in ‘n skietery Dinsdag by die Risbergska skool vir volwassenes in die Sweedse stad Örebro. Dit is die land se dodelikste aanval ooit in wat eerste minister Ulf Kristersson as ‘n “pynlike dag” beskryf het. Volgens die polisie is die skieter vermoedelik onder die dooies en ‘n soektog by die skool na ander moontlike slagoffers het voortgeduur. Plaaslike polisiehoof, Roberto Eid Forest, het gesê die rede waarom hulle nie meer presies kan wees nie, is dat die omvang van die voorval so groot is. Die polisie glo die skieter het alleen opgetree en terrorisme word nie tans as ‘n motief vermoed nie.