Hamas verwelkom Den Haag-groep
Hamas het die stigting van die Den Haag-groep verwelkom. Die groep is ‘n alliansie van nege lande wat die geregtelike, diplomatieke en ekonomiese maatreëls teen Israel se beweerde oortreding van die internasionale reg wil dryf. Die groep is gestig deur Suid-Afrika, Maleisië, Namibië, Colombia, Bolivië, Chili, Senegal, Honduras, en Belize en ondersteun Palestynse selfbeskikking. Hamas het gesê dit is ‘n deurslaggewende stap om, wat dit beskryf as ‘n rassistiese en fascistiese besetting, te beëindig. Die stigting van die groep volg op Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel by die Internasionale Geregshof.