Rotterdam: Alcaraz gunsteling na Sinner onttrek 

Die wêreld-nommer-drie, Carlos Alcazaz van Spanje, is die topgekeurde in die Rotterdamse Ope in Nederland nadat die verdedigende kampioen, Jannik Sinner, onttrek het. Die Italianer, wat boaan die wêreldranglys is, het besluit om ‘n ruskans te neem nadat hy die naweek sy Australiese Ope-titel behou het. Die wêreld-nommer-elf, Grigor Dimitrov van Bulgarye, gaan ook nie deelneem nie. Alcaraz kom te staan teen ‘n klomp sterk spelers, insluitend Holger Rune van Denemarke, die Switserse veteraan Stan Wawrinka, die Kanadees Felix Auger-Aliassime, en die plaaslike gunsteling Tallon Griekspoor.