Frans Steyn word glo Cheetahs se Curriebeker-hoofafrigter
Rugby: Die tweemalige Wêreldkampioen-Springbok, Frans Steyn, sal na verwagting as hoofafrigter van die Cheetahs se Curriebeker-span oorneem. Dit volg nadat die Vrystaat die eerste keer in drie jaar nie die uitspeelronde van die Uitdaagbeker-kompetisie kon haal nie. Nog twee voormalige Springbokke, Ruan Pienaar en Tiaan Liebenberg, sal Steyn volgens berigte bystaan. Die 37-jarige Steyn was lid van die Springbokke se suksesvolle Wêreldbeker-groepe in 2007 en 2019. Hy het tussen 2006 en 2022 in 78 toetse gespeel.