Theofelus werk aan mobiele swerftarief-ooreenkomste

Inligtingminister Emma Theofelus sê sy het haar eweknieë van Angola, Zimbabwe en Zambië betrek vir samewerkingsooreenkomste wat sal lei tot die harmonisering van mobiele swerftariewe, of “roaming”-tariewe. Dit sal ‘n uitbreiding wees van Namibië en Botswana se samewerking om swerfkoste vir oproepe en data met tot 60 persent te verlaag. Dit kom terwyl die SAOG-blok van 16 nasies werk om mobiele kommunikasiekoste oor die hele gebied eenvormig af te dwing deur die Een Netwerkgebied te vestig. Theofelus sê die uitbreiding van hierdie program sal die lewens van Namibiërs aansienlik verbeter deur groter en meer bekostigbare toegang tot konnektiwiteit. Dit sal uiteindelik ‘n positiewe sneeubaleffek hê op ander sektore soos handel, toerisme en algemene oorgrensverbindings.