Hervestigde gesinne nie ‘gestort’: Stad Windhoek
Die Stad Windhoek sê gesinne wat alles verloor het in die onlangse vloede, is in ‘n noukeurig beplande en uitgevoerde operasie by ‘n veilige terrein hervestig. Dit is in reaksie op ‘n artikel in The Namibian met die hoofopskrif wat sê die inwoners is gestort, of in Engels, “dumped”. Die Stad maak ten sterkste beswaar en sê hoewel die artikel self gebalanseerd is, was die opskrif misleidend en sensasioneel. Die Stad sê die hervestigingsproses is in konsultasie met die geaffekteerde inwoners gedoen, in samewerking met die Kantoor van die Eerste Minister en die Khomas-streeksraad. Elf gesinne is reeds hervestig en watertenks is voorsien. Die Stad is ook besig om kommunale krane aan te bring want die terrein het reeds lopende water. Ander noodsaaklike dienste soos toilette en bykomende toegangspaaie word ook beplan.