‘Himba Gladiator’ Kasaona fokus nou op afrigting
Die voormalige Brave Gladiators-kaptein, Uerikonjera ‘Mammie’ Kasaona, begin ’n nuwe hoofstuk nadat sy haar uittrede as speler aangekondig het. Kasaona, oftewel die “Himba Gladiator”, sal fokus op voltydse afrigting by die Kasaona Sokker Akademie wat aan die Hopsol Jeugliga deelneem. Die akademie maak voorsiening vir seuns en meisies van onder-9 tot onder-19. Kasaona het haar sokker-loopbaan in 2007 by Okahandja Beauties begin en het ook vir drie jaar klubsokker in Duitsland gespeel. Na haar terugkeer in 2014 het sy as Khomas Nampol FC-speler die Vroue Superliga-beker gewen in 2017.