LPO vra Meatco-ledevergadering aan
Die landbousektor sê daar is ‘n dringende behoefte om sake van gemeenskaplike belang met Meatco te bespreek. Dit volg op Meatco se twee onlangse mislukte pogings om sy 36ste algemene jaarvergadering te hou. Die eerste een, wat vir 22 November in Otjiwarongo geskeduleer is, is vir skynbaar die eerste keer in baie jare gekenmerk deur ‘n afwesigheid van mosies, terwyl geen kworum bereik kon word nie. Slegs 15 produsente en 30 personeellede, raadslede ingesluit, het opgedaag. Die tweede een, wat vir 5 Desember in Windhoek beplan is, moes ook gekanselleer word aangesien slegs 16 Meatco-lede uit 400 wat vooraf gekontak is, aangedui het dat hulle dit sou bywoon. Dit het daartoe gelei dat die Lewendehawe Produsente-organisasie ‘n Meatco-ledevergadering gevra het, wat volgens die Meatco-wet ondersteuning van minstens 50 lede vereis. Finansiele state, betalings, en Meatco se strategieë moet bespreek word.