Huweliksgas blykbaar deur ses mans in twee voertuie ontvoer

‘n Huweliksgas is na bewering Saterdagaand ontvoer en was gelukkig om gered te word. NamPol-lede het Saterdagaand omstreeks nege-uur by ‘n mini-padblokkade in Moses Garoëbstraat naby die Otjomuise polisiestasie ses mans in ‘n rooi BMW en ‘n wit Landcruiser gestop, toe ‘n vrou agterin die Landcruiser om hulp skree. Die 36-jarige vrou het beweer sy is van haar nefie se troue by die Daan Viljoen Lodge ontvoer en sy ken net een van die mans. Drie van die verdagtes het beweer dat hulle Angolese polisiebeamptes van die intelligensie-afdeling is en die slagoffer en een van die verdagtes in hegtenis geneem het vir diefstal van twee voertuie in Angola. Die verdagtes is in besit van twee ongelisensieerde vuurwapens gevind. Al ses mans, twee Namibiërs en vier Angolese, is in hegtenis geneem op klagte van ontvoering, aanranding deur te dreig, gewone aanranding en besit van ongelisensieerde vuurwapens. Die voertuie is geskut.