Mangione staan uitlewering teen
Die verdagte in die moord op die uitvoerende hoof van UnitedHealthcare Brian Thompson beveg sy uitlewering aan New York. Luigi Mangione is Maandag in hegtenis geneem by ‘n McDonald’s-restaurant in Altoona, Pennsilvanië, in verband met Thompson se moord buite ‘n hotel in Manhattan. Die 26-jarige is deur aanklaers in New York aangekla van tweedegraadse moord, vervalsing en drie vuurwapen-oortredings. Hy is borgtog geweier toe hy in ‘n hof in Pennsilvanië verskyn het. Mangione se prokureur, Thomas Dickey, sê hy het nog geen bewys gesien dat amptenare van New York die regte man aangekeer het nie. Dickey het na Mangione se hofverskyning met die media gepraat.