Stokes bereid om tot witbalspel terug te keer onder McCullum
Krieket: Engeland se toetskaptein, Ben Stokes, is bereid om onder die nuwe afrigter, Brendon McCullum, na die witbalspel terug te keer. McCullum is as hoofafrigter van alle formate aangestel na twee jaar met verskillende afrigters vir wit- en rooibalkrieket. Die Nieu-Seelander sal ook verantwoordelik wees vir spanne in die korter formate wanneer Engeland in Januarie in Indië toer. Stokes het uit internasionale eendag-krieket getree voor hy verlede jaar teruggekeer het vir die Wêreldbekertoernooi. Hy het laas ʼn internasionale T20-wedstryd gespeel in die Wêreldbeker-eindstryd van 2022.