Rebecca Cheptegei kry militêre begrafnis
Olimpiese marathon-atleet Rebecca Cheptegei, wat deur haar voormalige kêrel aan die brand gesteek is en later gesterf het, is by haar pa se huis in Oos-Uganda begrawe. Sy was ook ‘n sersant in Uganda se gewapende magte en soldate het die kis gedra. Sy is ‘n drie-sarsie geweersaluut gegee. Dickson Ndiema het Cheptegei buite haar huis aangeval in noordwes Kenia, waar sy geoefen het, en is ook dood van brandwonde. Aanvalle op vroue is ‘n groot bekommernis in Kenia. In 2022 het minstens 34 persent van vroue gesê dat hulle fisieke geweld ervaar het, volgens ‘n nasionale opname.