Madrid verbied ook uithuur van elektriese skopfietse
Madrid volg nou ‘n besluit deur ander wêreldstede soos Parys, Montreal en Melbourne met ‘n verbod op die uithuur van elektriese skopfietse van Oktober af oor die risiko wat hulle vir voetgangers inhou. Vir ondersteuners is elektriese skopfietse ‘n vervoerrewolusie, wat pendelaars toelaat om maklik en goedkoop in oorbevolkte stede rond te rits. Vir dié wat daarteen gekant is, is die fietse straatrommel wat beserings veroorsaak en vreedsame voetgangers bedreig. In net twee dekades het elektriese skopfietse gegroei tot ‘n wêreldwye mark wat tien-miljarde dollars per jaar werd is.