Tifoon Shanshan tref Japan, ten minste 3 dood
Minstens drie mense is dood nadat ‘n tifoon die suide van Japan getref en vrese laat ontstaan het vir oorstromings, grondstortings en uitgebreide skade aan geboue. Nog ‘n persoon word vermis, en talle is beseer nadat Tifoon Shanshan die eiland Kyushu getref en deur verskeie streke getier het. Die owerhede het ontruimingsopdragte uitgereik vir miljoene inwoners weens stortreën en sterk wind van tot 180-kilometer per uur. Shanshan is die jongste weerstelsel wat Japan tref. Tifoon Ampil het vroeër die maand kragonderbrekings en ontruimings veroorsaak.