Oekraïne vorder in Kursk, Russe val Kiëf aan
Die burgemeester van Kiëf, Vitali Klitschko, sê Rusland het vroeg vanoggend aanvalle op die Oekraïne se hoofstad geloods, met lugverdedigingstelsels wat van die aanvalle afgeweer het. Nooddienste sê ‘n man en sy vierjarige dogter is dood en verskeie mense is gewond. Vroeër het Rusland meer as 76 000 mense uit sy Kursk-streek ontruim namate die Oekraïne se inval in sy grondgebied verdiep. Duisende Oekraïense troepe is na bewering so ver as 20-kilometer binne Kursk in die grootste aanval op Russiese soewereine grondgebied sedert die begin van die oorlog in 2022.