Unam kry baanbrekende sonkragprojek
Inceptus Energy, ‘n publiek-private vennootskap tussen die Universiteit van Namibië se sakearm, Alensy Energy Solutions en Inceptus Holdings, het ‘n finansiële ooreenkoms met die Ontwikkelingsbank van Namibië en Old Mutual Namibië aangekondig vir ‘n baanbrekende sonkragprojek by die universiteit. Die vennootskap is ‘n belangrike mylpaal in die bevordering van volhoubare energiebenutting. Die projek spog met ‘n geïnstalleerde sonkrag-fotovoltaïese-kapasiteit van 3,68 Megawatt tesame met ‘n 657 kilo-volt-ampere piekskeer-oplossing. Bouwerk aan die projek het in die tweede kwartaal van 2023 begin en is op koers om teen die einde van die eerste kwartaal van 2024 voltooi te wees. Dit sal die universiteit se afhanklikheid van nie-hernubare energie afskaal, en ook ‘n beduidende rol in die vermindering van energie-uitgawes en sodoende besparings genereer, sê Kenneth Matengu, die universiteit se vise-kanselier.