Marine Enterprises se Uumati wil skorsing opgehef hê
Meer inligting is bekom oor die skorsing van Martha Uumati, die uitvoerende hoof van Erongo Marine Enterprises, deur Oceana Group Limited. Volgens plaaslike media is Uumati geskors nadat sy nie ‘n vergadering in Kaapstad by Oceana se kantore bygewoon het nie. Die vergadering is belê deur Oceana se uitvoerende hoof, Neville Brink, om te beplan vir ‘n Namibië Mededingingskommissie-verhoor teen Erongo Marine, ‘n filiaal van Oceana. Uumati dreig Oceana met ‘n regsgeding en sê in ‘n brief aan die Kantoor van die Arbeidskommissaris onder meer dat Oceana haar nie prosedureel geskors het nie, en haar ook nie ‘n kans gegee het om haarself te verdedig nie. Uumati eis die opheffing van haar skorsing, op grond van onbillike arbeidspraktyke aan die kant van Oceana.