Onderwysers mag nie betaling vra vir ekstra klasse
Die onderwys-ministerie se direkteur vir programme en gehalteversekering, Ayeesha Wentworth, sê onderwysers moet dadelik ophou om leerders geld te vra vir ekstra klasse. Ouers het by die ministerie gekla dat hulle duur moet betaal vir ekstra klasse in veral Engels, wiskunde en wetenskap. Die ministerie se beleid bepaal dat onderwysers geen vergoeding mag vra vir die aanbied van ekstra klasse vir hul leerders nie, aangesien dit deel vorm van die skoolverbeteringstrategie. Wentworth sê wanneer ’n skool swak gevaar het, is ekstra klasse een van die strategieë wat hulle kan gebruik om hul uitkomste te verbeter. Onderwysers wat deeltydse klasse oor hul vakke aan ander basiese onderwysinstellings soos die Namibian Open College of Learning verskaf, moet ook die skoolhoof en streekkantore se toestemming hiervoor kry.