Moordenaar sal in VSA versmoor word January 23, 2024

Alabama berei voor om ‘n nuwe metode van teregstelling te gebruik: stikstofgas. Kenneth Eugene Smith, wat die staat se vorige poging om hom in November 2022 deur ‘n dodelike inspuiting dood te maak, oorleef het, sal Donderdag deur stikstofhipoksie tereggestel word. As dit uitgevoer word, sal dit die eerste nuwe metode van teregstelling wees sedert dodelike inspuiting in 1982 ingestel is. Die Federale Hooggeregshof het in November beslis die metode kan gebruik word. Smith is 1996 tot dood veroordeel na hy skuldig bevind is aan die dood van ‘n pastoor se vrou na die pastoor hom daarvoor betaal het. Die staat hou vol dat stikstofgas vinnig bewusteloosheid sal veroorsaak, maar kritici sê dis menslike eksperimentering.