Prins Harry kry skadevergoeding

Groot skadevergoeding is aan Brittanje se prins Harry toegeken nadat die Londense hooggeregshof beslis het hy was die slagoffer van telefoonkrakery en ander onwettige dade deur joernaliste van Britse koerante, met die medewete van hul redakteurs. Die prins was die ster-getuie by ‘n verhoor in Junie teen Mirror Group Newspapers, die uitgewer van die Daily Mirror, Sunday Mirror en Sunday People, wat volgens Harry hom 15 jaar lank geteiken het. Die regter se besluit om 140 600 Britse pond, of sowat 3,3 miljoen Namibiese dollar aan hom toe te ken, en sy gevolgtrekking dat die koerante se redakteurs en bestuurders geweet het van die oortreding, word as ‘n groot oorwinning vir die prins beskou.