Stadion-opknapping derde keer uit die blokke uit

Die Tender Bulletin berig dat die sportministerie tien aanbiedings vir die eerste konsultasie-fase van die opknapping van die Onafhanklikheidstadion ontvang het. Die konsultasies sluit in ingenieurswese, bourekenaarsdienste, argitektuur en meer. Dit is die derde ronde wat die ministerie vir die dienste vra na twee tenders in 2022 gekanselleer is. Maar daar is twyfel of dit die keer na enigiets sal lei met ‘n skamele 37,5 miljoen Namibiese dollar wat die jaar begroot is, ver onder die reeds te min 50 miljoen dollar van verlede jaar. Die ministerie se eie ontwikkelingsbegroting is ook vanaf 66 miljoen dollar na 23 miljoen dollar gesny. Die finansminister het verdere fondse in komende boekjare belowe en het tydens sy middeltermyn begroting gesê die vertraging in die stadion se opknapping is nie geldelik nie maar eerder as gevolg van ‘n uiters stadige pas van uitvoering deur die ministerie.