‘Aktetas-tender’ versuur, draai in hof
‘n Tender wat toegeken is aan ‘n sogenaamde aktetas-maatskappy het versuur en draai in die hof. Die Chinese konstruksie maatskappy Zhou Construction dagvaar Ndakalimwe Investments vir konstruksiewerk wat aan die kantore van die Maatskaplike Voorsorgkommissie op Keetmanshoop en Lüderitz namens Ndakalimwe gedoen is. Zhou eis 1,26 miljoen Namibiese dollar vir werk uitgevoer op Keetmanshoop en net meer as 74 000 dollar vir werk wat by Lüderitz voltooi is. Ndakalimwe Investments is herhaaldelik in die nuus vir voedseltenders vir onderwys en het ook onlangs ‘n tender gekry vir pyplyne vir NamWater. Daar word gereeld kritiek uitgespreek oor ‘Trading’ en ‘Investment’ maatskappye wat tenders ontvang en dit dan uitkontrakteer. Die saak sal vandag vir bemiddeling verwys word deur regter Nate Ndauendapo.