Ierse span onveranderd vir Saterdag
Die hoofafrigter van Ierland, Andy Farrell, het sy span onveranderd behou vir Saterdag se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen die All Blacks op die Stade de France in Parys. Die vleuels Mack Hansen en James Lowe het van beserings herstel wat hulle in verlede naweek se groepwedstryd teen Skotland opgedoen het en het hulle plek in die opdrafspan behou. Die veelsydige agterspeler, Jimmy O’Brien behoort sy eerste kans in die toernooi te kry nadat hy op die bank gekies is. Die afskop is om nege-uur die aand na die eerste kwarteindstryd tussen Wallis en Argentinië.