Wes-Europa se hoogste berg krimp nog
Franse navorsers sê Wes-Europa se hoogste berg, Mont Blanc, het binne twee jaar met meer as twee meter gekrimp. Sy hoogte is voorheen aangegee as 4 809 meter. Die ikoniese berg het tot sy laagste hoogte gekrimp sedert presiese metings 22 jaar gelede begin het. Die wetenskaplikes sê dit is waarskynlik te wyte aan die warmer somers, wat die volume van Mont Blanc se sneeuvlak verminder. Dit is nie die eerste keer dat navorsers ‘n hoogtevariasie van meer as twee meter aanteken nie, maar hul sê die berg se hoogte was die afgelope jare op ‘n “effense afwaartse neiging”.