Regbank moet sy sokkies optrek met vleis-stroperysake

Die stroop van wilde diere vir vleis is ‘n toenemende probleem in Namibië met die Omaheke-streek wat die meeste deurloop met 18 persent van alle sake, gevolg deur Kunene en Otjozondjupa met 15 persent van voorvalle. Luidens die nasionale verslag oor wildmisdaad word kameelperde, buffels, zebras, verskeie boksoorte en vlakvarke die meeste geteiken maar, owerhede glo ook die syfers is misleidend omdat die groter meerderheid van die voorvalle nie gerapporteer word nie. Gevalle het toegeneem oor die afgelope jare met 24 wat in 2015 aangemeld is tot by 265 in 2019. Verlede jaar is 200 gevalle aangemeld. Daar is sedert 2015, 2 442 verdagtes gearresteer maar owerhede sloer omdat nog net 822, of net meer as 33 persent, sedertdien skuldig bevind is met die meerderheid van sake wat nog in die hof draai.