Steve ‘Biko’ Booys appelleer weer teen borgweiering

Nadat hy sy poging om borg te bekom reeds in September 2021 in die hoërhof laat vaar het, blyk dit of die omstrede Okahandja-streeksraadslid, Steve ‘Biko’ Booys nou weer poog om borg te bekom. Volgens vandag se hofrol, is regters Christie Liebenberg en Philanda Christiaan op die bank. Die datum vir die appèl se verhoor sal na verwagting vandag bepaal word. Booys word op klagtes van bloedskande en verkragting in die streekshof verhoor. Volgens die staat het hy op 16 en 17 Januarie 2021 ‘n 20-jarige vrou verkrag na hy haar drank of dwelms ingegee het. Hy is op 2 Februarie 2021 gearresteer en borg is sedertdien geweier omdat die staat beweer hy het kontak met die vermeende slagoffer gemaak oor die klagtes. Sy ampstermyn as streeksraadslid vir Okahandja is gekenmerk deur optogte teen hom.