Zuma is terug uit Rusland
Die Jacob Zuma-stigting het bevestig dat oudpresident Jacob Zuma terug is in Suid-Afrika. Zuma was in Rusland vir mediese behandeling. Volgens die stigting moes hy terugkeer vir die privaat vervolgingsaak teen die staatsaanklaer, Billy Downer, en die joernalis, Karyn Maughan, wat Vrydag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg aangehoor word. Daar is intussen ook steeds nie duidelikheid oor of Zuma sal moet terugkeer tronk toe nie. Die Konstitusionele Hof het verlede maand die departement van korrektiewe dienste se aansoek om verlof tot appèl teen ‘n vroeëre Appèlhof-beslissing dat Zuma se mediese parool onwettig toegestaan is, met koste van die hand gewys. Zuma en ander belanghebbende partye moet teen Vrydag voorleggings en vertoë indien, waarna die kommissaris van korrektiewe dienste ‘n besluit oor die kwessie moet maak.