Inheemse kennis, genetiese besit onder die loep in die hoofstad

Die Namibiese omgewingsministerie hou vanaf vanoggend half-nege vergaderings in die hoofstad oor die Konvensie oor Biologiese Diversiteit, bekend as die Nagoya-protokol. As ‘n party tot die Nagoya-protokol oor toegang tot genetiese hulpbronne en die billike verdeling van voordele wat voortspruit uit hul benutting, is Namibië verplig om wetlike en institusionele raamwerke vir doeltreffende samewerking in te stel vir die bewusmaking en implementering van modaliteite en prosedures vir toegang en verdeling van voordele in die land. Die Wet op Toegang tot Biologiese en Genetiese Hulpbronne en Geassosieerde Tradisionele Kennis van 2017 het op 1 November 2021 in werking getree toe die regulasies in die Staatskoerant koerant gepubliseer en aangekondig is deur die omgewingsminister Pohamba Shifeta. Die vergaderings sal tot Vrydag voortduur.