Tunisië se kuswag vind 901 lyke van migrante

Die Tunisiese kuswag het van 1 Januarie tot 20 Julie vanjaar 901 lyke van verdrinkte migrante aan sy kus gevind. Die land staar vanjaar ‘n rekordvlaag van migrasie in die gesig en gereelde rampe kom op sy kuslyn voor. Tunisië het Libië vervang as die streek se vernaamste vertrekpunt vir mense wat uit armoede en konflik in Afrika en die Midde-Ooste vlug in die hoop op ‘n beter lewe in Europa. Die meeste van die bote wat migrante vervoer, vertrek vanaf die kus van die stad Sfax.