VSA-regering dagvaar Texas oor Rio Grande-versperring
Die Amerikaanse Departement van Justisie dagvaar die staat Texas oor sy gebruik van drywende versperrings in die Rio Grande. Die staat se Republikeinse goewerneur, Greg Abbott, het die versperrings verlede maand in gebruik gestel om migrante op die grens tussen Amerika en Mexiko te keer. Dit bestaan deels uit oranje boeie wat met nette aan mekaar vasgemaak is. Die departement sê die versperrings is gevaarlik en onregmatig en het die goewerneur opdrag gegee om dit te verwyder. Abbott sê egter hy verwelkom die regsuitdaging en sê president Joe Biden moet die skuld dra vir die rekordgetal onwettige immigrante wat die versperring noodsaak.