Konsepwetgewing oor energie-regulering sloer

Die DA het die indiening van die wysigingswetsontwerp oor energieregulering in die parlement verwelkom, maar kommer uitgespreek oor die gesloer wat dit voorafgegaan het. Die DA parlementslid, Kevin Mileham sê dit is onwaarskynlik dat die wetsontwerp voor aanstaande jaar se verkiesing deurgevoer sal kan word. Mileham sê dit is nou eers in die vroeë stadium van die parlementêre proses, terwyl openbare deelname en in-diepte ontleding van die voorstelle nog moet plaasvind. Hy sê intussen word die las van die energiekrisis op die ekonomie net groter en beïnvloed die lewens van alle Suid-Afrikaners.