ReconAfrica se nuwe aandele-notering op Toronto-beurs teengestaan
‘n Groep Namibiese burgerlike organisasies, asook van Amerika en Kanada, het ‘n beroep op die Toronto-aandelebeurs gedoen om regulatoriese goedkeuring vir die Kanadese olie- en gas-reus ReconAfrica en sy voorgestelde nuwe aandeel-notering te weerhou. Dit volg nadat die Namibiese omgewingskommissaris die groenlig vir ReconAfrica gegee het om 12 nuwe boorgate in die Noordooste te boor. Die maatskappy het einde Junie ‘n nuwe aandele-aanbod aangekondig, wat 6,5 miljoen Amerikaanse dollar wil insamel om sy eksplorasie na olie en gas voort te sit. Plaaslike lede van die groep sluit in Earthlife Namibia, die Economic and Social Justice Trust, Saving Okavango’s Unique Life, die Women’s Leadership Centre en die Nutrition and Food Security Alliance of Namibia.