Nampol waarsku teen valse profete
Valse profete in Namibië is nou al vir etlike jare ‘n groot uitdaging vir wetstoepassing. Buitensporige aansprake word gemaak met betrekking tot genesing en om gered te word. Verskeie gesinne is beroof en ander het familielede begrawe wat sogenaamde medisyne geneem het om gesuiwer te word. In die jongste saak het die 45-jarige Namibiese selfverklaarde profeet Mberema Andrew Hausiku Vrydag in die Rundu-landdroshof op moordklagte verskyn nadat twee vroue Woensdag gesterf het na hulle ‘n brousel gedrink het wat hy hulle glo ingegee het. Twee ander vroue wat ook die brousel gedrink is in die Nyangana-hospitaal opgeneem. Hausiku is borgtog geweier weens die erns van die misdaad. Die saak is tot 25 Augustus uitgestel vir regshulp en verdere ondersoek. Kosmos 94.1 Nuus het met hoofinspekteur Christine da Fonseca gepraat wat werk in gemeenskaps-polisiëring en hierdie kwessies gereeld hanteer.