Whk-polisie behaal groot suksesse met dwelms

Die polisie in die hoofstad het sy kommer uitgespreek oor die nuwe neiging van dwelmhandelaars om skole te teiken. Die week is ‘n 35-jarige man voor die Goreangab Junior Sekondêre Skool in die hoofstad in hegtenis geneem nadat hy na bewering probeer het om dwelms aan ’n geheime polisiebeampte te verkoop. Daar is beslag gelê op 100 Mandrax-tablette en 3 kilogram dagga ter waarde van 162 150 Namibiese dollar. In ‘n afsonderlike geval het ‘n geheime polisiebeampte twee verdagtes van 30 en 32 jaar in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ook probeer het om dwelms aan die beampte in Katutura te verkoop. Daar is 2,9 kilogram dagga ter waarde van 146 300 dollar gekonfiskeer. En in Akademia is ‘n 39-jarige man gearresteer nadat die mag tydens ‘n roetine soektog 52 dosisse vermeende kokaïenpoeier ter waarde van 26 000 dollar gevind het. Die ondersoeke duur voort.