Amushelelo, Hengari & Nauyoma terug in die hof vandag

Die saak van van die NEFF-aktiviste Michael Amushelelo en Dimbulukeni Nauyoma kom vandag weer voor in die landdroshof in Katutura. Inna Hengari, die PDM se parlementslid, verskyn ook. Die saak, met verskeie klagte wat verband hou met aanhitsing tot openbare geweld, spruit uit die protesoptog teen jeugwerkloosheid wat op 21 Maart gehou sou word, maar deur ‘n hofbevel verhoed is. Beide Hengari en Nauyoma is vrygelaat op borgtog van 5 000 Namibiese dollar elk maar Amushelelo sit nog. Borg word geweier omdat hy reeds op borg in twee ander voorvalle, die Stad Windhoek-insident en die een op Walvisbaai, vry is, met voorwaardes dat hy nie aan die tipe gedrag mag deelneem nie. Sy prokureur, Kadhila Amoomo het aangedui hy sal in die hoërhof teen die weiering van borg appelleer maar daar is nog nie ‘n datum bepaal nie.