Schlettwein het kommer oor Meatco-produsente wat weer wag vir geld
Die Namibiese landbouminister Calle Schlettwein het gereageer op die chaos met beesvleis-uitvoere na China, wat deur die Nieu-Seelandse GPL gefasiliteer sou word. Twaalf vraghouers met vleis ter waarde van ongeveer 30 miljoen Namibiese dollar is nie verskeep nie en nuwe kopers moet vir die vleis gevind word. Schlettwein het sy misnoeë oor die aangeleentheid uitgespreek maar, voeg by dat protokolle vir uitvoere na China steeds in plek is.
Savanna Beef Processors het aan die plaaslike landbou tydskrif Agriforum bevestig dat die kwessie kommer wek. Die besturende direkteur Mecki Schneider het bevestig hulle vergader vandag met Meatco om aan fyner besonderhede van ‘n memorandum van verstandhouding te werk. Schneider het ook bevestig dat hulle onderhandel met ‘n Duitse “steakhouse franchise” wat 52 restaurante in Duitsland en 12 in ander lande in Europa het, en 6 miljoen kliënte per jaar onthaal.