Vermiste Franse solo-seiljagvaarder veilig
Die vermiste Franse solo-seiljagvaarder, Emmanuel Dailler, het vandag aangekom op die Martinque-eiland in die Karibiese See. Die Nasionale Seereddings-intituut in Suid-Afrika sê Dailler het sy familie in kennis gestel dat hy veilig is. Die woordvoerder, Craig Lambinon sê dit is nog onbekend waarom die 56-jarige Dailler so lank geneem het om sy bestemming te bereik. Dailler het op 2 Maart op sy Aquila Twee-seiljag vanaf die Houtbaai-seiljagklub vertrek. Daar was ‘n grootskaalse soektog van Franse owerhede en ‘n groot deel van die maritieme gemeenskap aan die gang om vas te stel waar Dailler hom bevind.