‘Swapo-kinders’ veroorsaak weer chaos, eis voordele

Die sogenaamde kinders van die vryheidstryd was weer bedrywig in die hoofstad wat gelei het tot die arrestasie van ses van hulle lede, een ‘n ma van ‘n 14-maande-oue kleuter wat sy saamgebring het. Die ses sal na verwagting vandag in die hof verskyn na die groep van ongeveer 200 opgeruk het na die kantoor by die ministerie van verdediging en veterane wat met veteraan-aansoeke werk. Die groep eis om as veterane geregistreer te word om voordele te bekom. Plaaslike media berig dat chaos ontaard het na hulle die kantoordeur met ‘n ketting van buite af probeer sluit het. Die polisie het hulle 30 minute gegee om die perseel te verlaat maar dit het nie gewerk nie. Nampol se streeksbevelvoerder, Chrispin Mubebo sê talle van die vroue het hulle kinders gebruik sodat die polisie nie traangas gebruik nie. Hulle het onlangs ‘n versoekskrif aan minister Frans Kapofi gerig wat ontvang is. Kapofi is op rekord dat die groep nie geregistreer kan word nie.