Hidrologiese Diens waarsku oor Benede-Oranje
Die Hidrologiese Dienste van Namibië waarsku gemeenskappe by Noordoewer en Aussenkehr langs die Oranjerivier teen moontlike hoë riviervloei en oorstromings. Daar is hoë reënval in die Vaal-Oranje-stelsel in Suid-Afrika. Gevolglik moes groot water-vrylatings die afgelope naweek vanaf die damme van die Bloemhof, Gariep en Vanderkloof gemaak word. Die hoë vloei het afbeweeg in die Benede-Oranjerivier. Volgens die vloedbulletin het die watervlak by Blouputs sedertdien vinnig begin styg tot ‘n vlak van 3,33 meter. Intussen toon die jongste voorspellings die tropiese sikloon, Freddy, sal vandag land bereik in Madagaskar en Mauritius. Die sikloon sal na verwagting swaar reën en oorstromings veroorsaak in Zimbabwe, Malawi, Botswana, Eswatini, Zambië en die noordelike dele van Suid-Afrika.